#geeREG

Solidariteit Helpende Hand wil graag die publiek bewus maak van die skade wat onnadenkende hulp aan arm lede van ons gemeenskap kan veroorsaak. Selfs ʼn goedhartige donasie of skenking kan heel waarskynlik sosiale euwels, soos dwelmmisbruik, in standhou en befonds.

In Helpende Hand se kwalitatiewe studie het dit na vore gekom dat vele Blanke bedelaars aan dwelms verslaafd is en bied met die Bedwelmd dokumentêr  ʼn eerlike blik op die realiteite van dwelmmisbruik onder arm blankes, spesifiek onder blanke bedelaars.

Ons fokus hierdie boodskap as deel van ’n nasionale bewusmakingsveldtog oor hoe die publiek ’n beter belegging in die verligting, verbreking en voorkoming van armoede kan maak deur “reg te gee”.

Word 'n Solidariteit Helpende Hand-ondersteuner

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Inleiding:

Wanneer die publiek aan bedelaars op straat geld gee, verkeer mense onder die wanindruk dat die geld vir lewensmiddele soos voedsel en kleding aangewend gaan word. Min mense besef egter die skade wat hulle aanrig deur geld vir hierdie mense te gee.

In ’n onlangse kwalitatiewe navorsingstudie deur Solidariteit Helpende Hand het respondente gemeld dat 90% van blanke bedelaars op straat die geld wat hulle van die publiek ontvang, gebruik om hul dwelmgewoontes te onderhou. Die volledige verslag kan hier besigtig word. Navorsingsverslag

Die bedelaars gebruik kreatiewe metodes om op hulle “slagoffers” se gevoel te speel om sodoende  geld van die publiek te ontvang. Die nuutste poging is byvoorbeeld die nabootsing van ’n fisiese gebrek of besering om mense te oortuig dat hulle nie kan “werk nie” en dus uitgelewer is aan die publiek om vir hulle te sorg.

Dit is egter menslik om hulp te wil verleen en dit is ook ’n Bybelse opdrag dat ons mense in nood moet help. Dit is derhalwe verstaanbaar dat mense hulp op hierdie wyse gee sonder om die destruktiewe gevolge te besef.

Doel van die #geeREG Veldtog:

Gesien in die lig van bogenoemde het Solidariteit Helpende Hand besef dat ’n bewusmakingsveldtog oor hierdie verskynsel die publiek daarvan bewus kan maak dat hul bydraes nie aangewend word vir die doel waarvoor dit vir die persoon gegee word nie.

Die publiek moet derhalwe ingelig word hoe om op die “regte manier” hulp te verleen.  Wanneer daar onnadenkend hulp verleen word, word die siklus van dwelmmisbruik en ander maatskaplike euwels versterk en hoegenaamd nie verbreek nie.

Verantwoordelike Hulpverlening:

Die publiek kan die volgende riglyne in aanmerking neem, wanneer hulle graag ’n persoon in nood wil bystaan:

  • Die paar sekondes wat jy die persoon langs die straat sien staan, gaan nooit genoegsaam wees om verseker te weet dat die geld wat hy/sy ontvang werklik vir lewensmiddele aangewend word nie.
  • Moet dus NOOIT geld aan die bedelaar op straat voorsien nie.
  • Die navorsing het ook getoon dat die bedelaar selfs voedsel sal verkoop ten einde dwelms te bekom.
  • Om voedsel te gee, is egter steeds ’n beter opsie as om die persoon van geld te voorsien.
  • Die publiek moet hulself vergewis van die hulpbronne binne hul eie gemeenskap – soos byvoorbeeld waar daar moontlike sopkombuise of voedingskemas is.
  • Die kontakbesonderhede van bogenoemde instansies kan dan eerder aan die bedelaar gegee word en kan hy/sy dan die keuse uitoefen om daar te gaan aanklop om hulp.
  • Die publiek word dan aangemoedig om eerder hul bydrae, hetsy kontant of materiële middele aan sodanige instansie te skenk.
  • Dit is ook ’n persoon wat skenk se reg om meer van die instansie of organisasie uit te vind om sodoende te verseker dat die instansie of organisasie deursigtig is en hul bona fides bo verdenking. (Bedrog kom ongelukkig ook in sogenaamde “welsynsprojekte” voor).
  • Sekere organisasies het reeds sekere sisteme in plek gestel waarvan die publiek gebruik kan maak – soos byvoorbeeld die kaart-sisteem van die SAVF, ACVV en OVV. By enige van hierdie organisasies se kantore kan die publiek ’n kaart van Checkers of Shoprite afhaal en ’n bedrag geld van jou keuse daarop laai.  Die kaart kan aan die persoon in nood oorhandig word en kan hy/sy self aankope vir die bedrag op die kaart gaan doen.  Geen sigarette of drank sal egter gekoop kan word nie.
  • Solidariteit Helpende Hand Centurion Tak in samewerking met Kerk sonder Mure stel ’n voedsel-koeponstelsel as ’n “Gee Reg” inisiatief bekend. Lede van die publiek kan hierdie koepon by Moeggesukkel en sekere kerkkantore aankoop en aan die hulpbehoewendes versprei.  Die koepon se waarde is gelykstaande aan een bord gekookte kos.  Op die koepon sal aangedui word waar die persoon die ete kan nuttig.  Vir meer inligting kan Moeggesukkel gekontak word by: 073 329 5174
  • Let wel dat ’n suksesvolle rehabilitasie-proses ’n uiters gekompliseerde en langdurige proses is wat gespesialiseerde aandag benodig. Die publiek moet dus besef dat om ’n onbekende persoon wat langs die straat bedel in hul huis in te neem, uiters riskant en gevaarlik kan wees.
  • Vergewis jouself dus eerder van die rehabilitasie-sentrums binne jou gemeenskap en stel vas waar is die staatsgesubsidieerde sentrums. Die Departement van Maatskaplike Dienste sal hierdie inligting beskikbaar stel. Indien ’n persoon werklik van voorneme is om behandeling te ondergaan, kan die kontakbesonderhede aan hom/haar verskaf word. Die opname-proses sal deur die Departement Maatskaplike Dienste gefasiliteer word.
  • Dra kennis van informele nedersettings of skuilings binne jou gemeenskap om laasgenoemde ook as verwysing te gebruik. Indien jy by hierdie tipe nedersettings betrokke wil raak, is dit belangrik om vas te stel watter organisasies reeds betrokke is.  Dienste en skenkings word dikwels gedupliseer en is daar nie altyd deeglike koördinering hiervan nie.
  • Dis belangrik dat ’n persoon sal besin ten opsigte van sy/haar voorkeur van hulpverlening. Sommige persone het byvoorbeeld ’n passie vir kinders en ander vir bejaardes.  Sodra ’n persoon sy/haar voorkeur vasgestel het, sal volhoubare betrokkenheid ’n groter moontlikheid word.
  • Raak dan betrokke by ’n instansie of organisasie waar jy jou passie of roeping kan uitleef. Vergewis jouself met die projekte van die organisasie en besluit hoe jy betrokke wil raak.
  • Hulpverlening strek egter veel vêrder as ’n eenmalige finansiële bydrae en is die tyd en betrokkenheid by ’n projek dikwels van groter waarde. Vrywilligers speel ’n onskatbare rol in baie organisasie se funksionering en is hul betrokkenheid binne hul gemeenskappe onmisbaar.

Die betrokkenheid by ’n organisasie of instansie verseker dat jy deel word van ’n groter netwerk en word hulpverlening versterk. Onthou:  moet NOOIT iets vir ’n persoon doen wat hy nie vir homself kan doen nie, aangesien dit afhanklikheid versterk en word die hulpbehoewendheid onderhou.